Custom search form
Custom search form

Ope brief: ‘Discovery maak my siek’

 19 November 2018
 
Dirk Hermann

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, het aangekondig dat die groep in Maart 2019 die Discovery Bank van stapel gaan stuur.

ʼn Herrie het veral op sosiale media losgebars nadat hy aangekondig het dat die bank 10% van sy aandele aan sy swart kliënte gaan gee. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in ʼn ope brief aan Gore die bank se planne om wittes uit sy aandeelskema te sluit, as abnormaal en onaanvaarbaar beskryf.

Geagte mnr. Gore

Ek sien Discovery gaan ʼn bank begin. Dit is glo ʼn eerste in die bankwese. Ek sien die bank is uniek omdat gedrag mense se voordele bepaal.

Dit is egter nie net gedrag wat mense se voordeel bepaal nie, maar ook ras. Ongelukkig kan ras nie deur gedrag verander word nie. Dit is ʼn uiterlike kenmerk en ʼn mens word so gebore.

Tien persent van die bank se swart kliënte kan gratis aandele kry. Wit kliënte kry niks nie. U maak weer gebruik van rasseterme en om oor u transaksie te praat, moet ons ongelukkig van “swart” en “wit” praat.

Discovery se besluit om wit mense op grond van ras uit sy nuwe aandeleskema te hou, maak my siek.

Dit maak my siek, want ʼn oorvereenvoudigde potloodtoets word gebruik om die reg tot toegang tot die voordeel te bepaal. Dit maak my siek omdat dit as reg aangebied word.

Die 1,65 miljoen Discovery-kliënte en potensiële bankkliënte word volgens ras geklassifiseer – nee, nie volgens behoefte nie, maar volgens ras. Alle swart mense in Suid-Afrika is nie behoeftig nie en alle wit mense is nie ryk nie. U vereenvoudig: swart is ʼn aanduider van behoefte. Ongelykheid, benadeling of klas is nie die maatstaf nie, net ras is.

Suid-Afrika se demografie en uitdagings is baie meer kompleks as swart en wit.

U suiwer rassebenadering is ongenuanseerd en uitgedien. Van Discovery sou ek ʼn meer innoverende benadering rondom aandeelhouding verwag het. Behoefte as maatstaf sou al ʼn beter morele basis gebied het.

Die lojaliteit van duisende wit Discovery-kliënte word nie oorweeg nie; net hul ras. Discovery is tot ʼn groot mate op die rug van die wit middelklas gebou. Na aanleiding van aannames uit Statistieke SA se syfers is 35% van u kliënte, konserwatief gesproke, vandag steeds wit. Anders gestel, is ongeveer 570 000 van die lede wat aan u mediese fonds behoort wit en indien hul afhanklikes by die syfer gevoeg word, is dit ʼn totaal van 1,2 miljoen wit mense.

Wat u onderskat, is dat wit mense 4,5 keer hoër verteenwoordiging in die mediese mark het as wat hulle in die nasionale demografie verteenwoordig is. Hulle het steeds ongelooflike koopkrag.

U is bereid om vir hierdie groep te sê: “Ons sien julle nie as deel van ons nie. Ons wil graag hê dat swart Suid-Afrikaners eienaars van ons maatskappy word – so graag dat ons vir hulle aandele sonder risiko gee. Wit mense mag egter net kliënte bly. Ons soek net jul geld.”

U vervreem ʼn groot deel van u kliënte. Hulle voel uitgesluit. Dit is nie net by Discovery nie, dit is in die algemeen. Daar is egter ʼn groot verskil tussen die staat wat ʼn minderheid uitsluit en ʼn maatskappy wat jy met jou gesondheid en ook met jou geld moet vertrou.

U hele model is op lojaliteit gebou. U besluit om lojaliteit vir ras te verruil, verraai u eie model en u kliënte gaan u straf. U lojaliteitsprogram het kliënte geleer dat lojaliteit beloon en dislojaliteit gestraf word. Goeie gedrag verdien voordele; slegte gedrag verdien nadeel. U gedrag teenoor hulle beleef hulle as slegte gedrag.

U gaan gestraf word omdat die besluit om wit mense uit te hou nie op ʼn morele basis rus nie, maar op ʼn pragmatiese basis om so aan bemagtigingsvereistes te voldoen. Nie eers u swart kliënte sal dit as ʼn edele, opofferende gebaar sien nie, want dit is nie. Hulle word gebruik om punte te kry.

Wit kliënte moet uitgeskop word sodat u genoeg punte kan behaal om u wit profiel op topvlak te beskerm. U besit sowat 7% van Discovery en u waarde beloop ongeveer R7 miljard. Ek verstaan dat u welvarend is, want u is die simbool van innovasie en ondernemerskap. Discovery se top-20 het almal aandele, swart sowel as wit. Op topvlak diskrimineer u nie op grond van ras wanneer dit kom by die toekenning van voordele nie. Die aandele wat u en die paar top-mense besit, is ongeveer gelyk aan die aandele wat u aan u swart kliënte wil gee. Indien die transaksie afgehandel is het u en u top wit kollegas nog al u aandele en u wit kliënte niks.

U verruil die lojaliteit van u wit kliënte vir punte. Die ergste is dat dit nie nodig was nie. Geen bemagtigingshandves eis dat wit mense absoluut uitgesluit word nie en nog minder die Bankwet of die Reserwebank. Trouens, kwotas word deur die wet verbied. U absolute uitsluiting gaan te ver. U bou nie aan ʼn inklusiewe Suid-Afrika nie; u klassifiseer Suid-Afrika volgens ras. Ons het die afgelope ruk heelwat van hierdie harde rassebenadering gesien – wit mense wat uit Sasol se aandeleskema geskop word en jong wit werklose mense wat uit pres. Cyril Ramaphosa se YesForYouth-program uitgesluit word.

Dit is nie net wit mense wat nie durf toelaat dat ras die bepalende faktor is en dat die samelewing weer volgens ras geklassifiseer word nie, maar Suid-Afrika mag dit nie toelaat nie. Ons mag nie toelaat dat rassigheid aangebied word as nierassigheid nie; ongelykheid as gelykheid nie; uitsluiting as insluiting nie; en verryking as transformasie nie.

Om ongenuanseerde rasseprogramme as regstelling aan te bied is vals.

Ons mag nie toelaat dat ʼn nuwe ideologie van ras genormaliseer word nie.

Discovery se tipe transformasieprogram maak Suid-Afrika siek. Ons moet almal saam ʼn ander normaal soek. Dit is ʼn balans waar wanbalanse getakel word, maar menswaardigheid vir almal gerespekteer word; ʼn balans waar ras van die verlede nie vervang word met geïnstitusionaliseerde ras in die toekoms nie; dit is ʼn balans van wedersydse respek en erkenning. Eenvoudige uitsluiting is wanbalans.

Wat ons vra, is eenvoudig: Beloon alle bestaande kliënte volgens lojaliteit, ook wat aandele in die nuwe bank betref. U kan nuwe kliënte toegang gee tot bankdienste op grond van behoefte en nie op grond van ras nie.

U is bekend vir innovasie. Gaan terug na die tekenbord. Daar is niks innoverend aan eenvoudige rasse-uitsluiting nie.

Suid-Afrika en Discovery kan nie hierdie transaksie bekostig nie.

Vriendelike groete

Dr. Dirk Hermann

soortgelyke plasings

Soek en jy sal vind

Custom search form