Custom search form
Custom search form

‘Spur-mense het gepraat, nie ek nie’ – Dirk Hermann reageer

 26 Mei 2017
Dirk Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het in ʼn ope brief gereageer op die ope brief wat Pierre van Tonder, uitvoerende hoof van Spur, aan Hermann gerig het:

Beste Pierre

Spur: Luister asseblief ʼn slag

Dankie vir jou skrywe. Alhoewel dit nie ideaal is om só in die media te kommunikeer nie, is dit tog goed dat daar ʼn debat in die media oor die aangeleentheid is.

Mag ek die vrymoedigheid neem om hierdie skrywe weer te begin met my stelling dat ek nie Spur boikot nie, maar dat ek bloot my aptyt om daar te eet, verloor het?

Die fundamentele fout in jou skrywe is dat jy dink dat daar ʼn groot georganiseerde boikot teen Spur is, iets wat aan- en dan weer afgeskakel kan word. Wat ons nou ervaar, is erger as dit – mense wil net nie meer by julle eet nie. Dit het spontaan gebeur en is baie groter as ʼn boikot.

As mense slegte diens by ʼn restaurant ervaar het en hulle wil nie meer daar gaan uiteet nie, is dit nie ʼn boikot nie; hulle gaan net nie meer soontoe nie.

ʼn Goeie parallel om te trek is die United Airlines-geval waar hulle die dokter van ʼn vlug af gesleep het. Dit het gelei tot ʼn reuse daling in omset, maar daar was nie ʼn amptelike boikot nie. Dit was bloot net mense wat besluit het om hulle geld na kompeteerders te vat, weens die ongelooflike swak hantering van die geval deur United Airlines se bestuur.

Mense het ʼn slegte ervaring by julle gehad. Ek praat van die breër publiek en julle luister nie na hulle nie. Inteendeel, die gevoel van jou hele skrywe is: Ek is reg, aanvaar dit of laat staan dit. As die stof gaan lê, gaan mense sien ons was toe die heeltyd reg.

Julle het jul ore vir kliënte gesluit en besluit om eerder teen hulle te veg en die Spur-eienaars, kelners en personeel betaal die prys vir julle oordeel.

Mense wil met julle praat. Hulle wil vir julle sê hoe hulle voel. Hulle wil vir julle sê hulle voel geboelie en hulle voel julle het teen hulle gekies. Dit gaan lankal nie meer oor die voorval nie; dit gaan oor hoe julle daarop gereageer het. Ons het ons almal vir die twee volwassenes geskaam. Niemand wil vir hulle intree nie.

Al wat ek doen, is om ʼn spieël vir jou op te hou – ʼn spieël van ʼn gemeenskap wat baie, baie onthuts is. In jou reaksie kyk jy egter nie in die spieël nie. Jy kyk weg en sê bloot ek omhels ʼn oningeligte narratief. Dit onthuts mense nog meer. Pierre, hul gevoel is werklik.

Die hele kwessie het geëskaleer toe jy op 17 Mei aankondig dat die druk op Spur-restaurante is as gevolg van ʼn boikot en dat dit veral in ou Konserwatiewe Party-kiesafdelings is. Dit is werklik vreemd om 1989-terme te gebruik om julle krisis te beskryf. Jong gesinne wat by julle eet, weet nie eers wie was die Konserwatiewe Party nie. Julle het blaam begin skuif. In Suid-Afrika is wit rassiste ʼn lekker manier om blaam te skuif. Weereens het julle hantering die mense kwaad gemaak. Jy verwys heeltyd na die enkele insident wat opgeblaas is. Maar dit gaan oor die reeks besluite oor die hantering hiervan, en jou brief aan my is die laaste daarvan.

Die protes kom nie van ʼn klein groepie rassiste nie. Die gevoel strek baie wyd. Die klein groepie wat daarop aanspraak maak dat hulle die boikot organiseer, het maar 5 000 Facebook-likes. Dit is soos ʼn miertjie wat op ʼn groot olifant sit en elke keer as die olifant nies, sê die mier dit is hy wat die olifant laat bewe. Julle kyk na die mier en kyk die olifant mis.

Dié groot olifant is jul mark. Dit is die mense wat in die dorpe en woongebiede, soos deur jou uitgewys, bly. Dit is mense wat vir Mmusi Maimane in die vorige verkiesing gestem het. In Rietfontein, wat ʼn daling van 45% in verkope getoon het, het meer as 80% vir die DA gestem. In die Kroonstadse wyk waarin die plaaslike Spur val, het 85% vir die DA gestem; in Secunda was dit 84,8% en in Lichtenburg 65%. Hierdie groep is dus nie ʼn ekstreme groepie nie; ons praat hier van die deursnit van wit Suid-Afrikaners met groot koopkrag.

Hierdie koopkrag is middelklaskoopkrag en dit is dié van die tipiese Spur-kliënt. Dit gaan hier oor mense wie se maandelikse besteebare inkomste meer as R10 000 per maand is. Van hulle is steeds 42% wit. Dit is baie meer as die 9%-aandeel wat wit mense in die nasionale rassedemografie het. Julle vervreem dus amper die helfte van jul koopkrag. Wat dit erger maak, is dat hierdie persentasie in sekere dele waar Spur-takke geleë is, tot so hoog as 80% is.

Ek sien daar is Spur-bemarkingsplakkate by ons plaaslike skool opgesit. Hierdie krisis gaan nie weg-geadverteer word nie. Solidariteit se bestuurspan het ook besluit dit sal nie van pas  wees om Spur-advertensies in ons tydskrif te plaas nie. Die probleem is op ʼn dieper vlak en moet op ʼn dieper vlak opgelos word.

Wat ek aan jou oordra, is hoe mense voel. My ope brief aan jou het nie die gevoel begin nie; dit het die gevoel verwoord. Die daling in Spur-syfers is nie as gevolg van my ope brief nie, my ope brief het daarop gevolg. My brief is op Maroela Media alleen 80 313 keer gelees en 11 680 keer op Facebook gedeel. Dit was omdat dit mense se gevoel verwoord het.

Ek staan aan die kant van Spur-konsessiehouers, kelners en kliënte. Almal sê een ding: Luister asseblief ʼn slag. Ek wil nie hê een Spur moet toemaak nie. Die afgelope twee dae het verskeie konsessiehouers my gekontak. Hulle is beangs en het ons gevra om betrokke te raak. Hulle voel ook hulle word nie gehoor nie. Al wat ek kan doen, is om te sê: Hier is ʼn spieël, jul kliënte is kwaad. Luister, toon begrip en wees aan hul kant, want Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat nog ʼn enkele werksgeleentheid verlore gaan of ʼn besigheid sy deure sluit nie.

Vriendelike groete
Dirk

soortgelyke plasings

Soek en jy sal vind

Custom search form