21 November 2018
Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, het gesê die maatskappy het aansienlike terugvoer oor sy voorgenome BGSEB-skema ontvang, hoewel daar sekere wanopvattings daaroor is.
’n Herrie het losgebars nadat Discovery aangekondig het dat hy ’n bank tot stand gaan bring met 10% swart eienaarskap. Solidariteit, AfriForum en die VF Plus het Discovery gekap oor die aankondiging en dit as blatante rassisme bestempel. Talle Discovery-kliënte het ook reeds aangedui dat hulle hul sake by die maatskappy sal kanselleer.
Gore het in antwoord hierop benadruk hoeveel waarde Discovery heg aan wat hul kliënte van hulle dink, asook die omvang van kliënte se lojaliteit teenoor hulle. “Daarom neem ons dié terugvoer baie ernstig op. Terselfdertyd moet ons altyd op ’n manier optree wat met die sosiale en wetgewende opdrag ooreenstem.”
Gore het gesê dit is belangrik om die beweegrede vir die voorgenome skema duidelik te maak en sekere wanindrukke reg te stel. “As diep patriotiese en waardegedrewe organisasie is Discovery daartoe verbind om meer as R13 miljard oor die volgende vyf jaar in Suid-Afrika te belê – Discovery Bank is sentraal hiertoe.
“In die konteks van belegging in Suid-Afrika is daar ’n duidelike morele opdrag vir transformasie. Om dit op ’n inklusiewe wyse te bereik, is fundamenteel tot ’n suksesvolle, morele en veilige toekoms vir die land. Discovery Bank se BGSEB-skema is gestruktureer om dit te onderskraag.”
Gore het gesê transformasie in Suid-Afrika is verpligtend volgens wetgewing. “Wetgewing vereis swart eienaarskap, en daar is spesifiek as deel van ons lisensiëringsproses teenoor die Suid-Afrikaanse Reserwebank ’n onderneming van direkte swart eienaarskap in die Bank gemaak. Ons moet hierdie onderneming gestand doen.”
Gore sê die vraag het toe ontstaan hoe om dit te doen gegrond op die fundamentele vraagstukke rakende transformasie, vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging en lisensiëring. Hy sê hulle het gevoel dat ’n skema met breë omvang wat direk aan individuele kliënte gekoppel is, billik en meer moreel en inklusief sou wees as een waarin ’n paar mense of klein groepe bevoordeel sou word.
Hoewel besonderhede van die BGSEB-skema eers volgende jaar gefinaliseer sal word, verduidelik Gore dat die skema-aandele nie “gratis” weggegee sal word nie. “Kwalifiserende kliënte sal vir hul aandele (en enige rente daarop) betaal deur middel van ondernemersfinansiering binne die skema. Hierdie benadering stem ooreen met talle ander modelle in die finansiëledienste- en banksektor.”
Volgens Gore sal die aandele nie verhandelbaar wees nie aangesien Discovery Bank nie as ’n afsonderlike entiteit genoteer is nie. “Die skema is bedoel om breed te wees, en sal aan individuele deelnemers beskikbaar wees. Daar sal voorwaardelike vereistes wees waaraan deelnemers oor die termyn van die skema moet voldoen.
“Van sleutelbelang is dat deelnemers slegs sal deel in die bykomende ekonomiese waarde wat hulle help skep – die reëling is nie ten koste van ander lede nie. Ons primêre doel is om ’n bank te bou wat progressief is, nasiebou bewerkstellig en sy kliënte beloon. Ons visie is om ’n bank te bou wat individue help om ’n sterker finansiële toekoms te bou. Ons sal voortgaan met raadpleging en alle geldige terugvoer integreer,” sluit Gore af.