25 Mei 2017
Pierre van Tonder, uitvoerende hoof van Spur, het ʼn ope brief aan dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, geskryf in reaksie op ʼn ope brief wat Hermann vroeër vandeesweek aan Mark Farrelly, hoofbedryfsbeampte van Spur, gerig het.
Beste Dirk
Ek verwys na jou ope brief wat op 23 Mei op Maroela Media gepubliseer is waarin jy verskeie aanvegbare stellings maak oor Spur en ons hantering van die situasie in die Texamo Spur in Johannesburg. Jy het jou skrywe gerig aan my bedryfshoof Mark Farrelly wat as woordvoerder vir Spur optree.
Ek was verbaas om te sien dat ʼn vakbondleier implisiet ʼn oproep vir ʼn boikot maak en dan die moedswillig verdraaide weergawe van gebeure aanvaar sonder om in ag te neem hoe só ʼn boikot werksgeleenthede sal raak van mense van alle agtergronde wat op Spur staatmaak vir oorlewing. Jou weiering om Mark se aanbod te aanvaar dat jy die volledige video-materiaal van die voorval kom kyk, slaan my dronk. Jy sê dié uitnodiging mis die punt; ek verstaan egter nie hoe dit die punt mis om jouself behoorlik te vergewis van die volledige feitestel rondom so ʼn voorval nie.
Spur het baie goeie rede om nie die volledige beeldmateriaal wat ons gebruik het om ʼn beslissing te maak oor die voorval, vry te stel nie. Ons glo dit sal hoogs oneties wees om die kinders in die video bloot te stel omdat dit baie maklik sou wees om hulle te identifiseer. Selfs sou ons hulle gesigte verskans, sal mense steeds kon uitpluis wie hulle is omdat hul ouers se identiteit bekend is. Dit sou die kleingoed blootstel aan baie ongewenste aandag en kritiek, veral op sosiale media. Spur doen ons uiterste bes om kinders te beskerm in lyn met grondwetlike beginsels; wette wat minderjariges beskerm asook die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Perskode.
Ek sou verwag dat jy as ʼn vakbondleier met invloed in die Afrikaanse gemeenskap jouself sou vergewis van al die feite voordat jy steun vir ʼn boikot sou uitspreek wat juis die Afrikaanse mense seermaak wat jy beweer ons benadeel het. Om die waarheid te sê, daar is van ons werkers wat aan jou vakbond Solidariteit behoort in van die Spur-franchises wat sleg getref is. Hulle werk is nou op die spel weens die boikot wat jy steun, maar pleks dat jy jou oor hulle belange ontferm, kies jy om politieke munt te slaan uit die haatveldtog teen Spur wat op sosiale media georkestreer is deur Front Nasionaal.
Dit is veelseggend dat die enigste skrywe wat ons tot dusver van jou ontvang het oor hierdie kwessie, ʼn e-pos is van julle bemarkingsmense om te vra of Spur ʼn advertensie wil plaas in julle ledetydskrif, iets wat jy nagelaat het om te noem in jou brief aan Mark. Maak nie saak hoe jy hierna kyk nie, dis ʼn geweldig siniese skuif om ʼn maatskappy in die openbaar te verguis en dan vir hulle geld te vra om te adverteer sodat die “negatiewe kritiek” reggestel kan word.
Jy het ook nagelaat om te noem dat Spur in die verlede al dikwels reggestaan het om julle welsynsorganisasie Helpende Hand te ondersteun. Trouens, ons Tennessee Spur in Kroonstad gaan op 30 Mei 2017 ʼn funksie hou om geld in te samel vir die personeel van die Lace-diamantmyn en ons moedig almal aan om dié geleentheid te ondersteun. As die boikot slaag, sal nie net hierdie en verskeie ander Spurs die onderspit delf nie, maar ook die groter gemeenskap. Ons is meer as bereid om vir jou ʼn lys te voorsien van al die goeie sake en welsynsprojekte wat Spur landwyd ondersteun. Dit illustreer baie duidelik dat ons in alle gemeenskappe belê en nog nooit teen enige ras of etniese groep gediskrimineer het nie.
Jou beskuldiging dat Spur die “diskoers in die wit gemeenskap” verkeerd gelees het, mis die punt dat Spur nie op kwessies reageer deur dit deur ʼn ras-filter te beskou nie. Ons etiketteer nie mense nie. Ons sou nooit soveel keer as Suid-Afrika se gewildste gesinsrestaurant verkies gewees het as mense van alle rasse nie welkom gevoel het in ons restaurante nie. Ons aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid beteken dat miljoene Afrikaanse mense ook voordeel trek uit Spur se skenkings en borgskappe. ʼn Goeie voorbeeld is die meer as R500 000 wat Quinton Jansen van ons Mexico Spur in Canal Walk gemaak het om dit vir Hoërskool Stellenberg se rugby-uitblinkers moontlik te maak om verlede jaar na Italië te kon toer. Sulke skenkings sal eenvoudig net nie meer kan gebeur as die boikot slaag nie.
As Spur werklik nie vir ons Afrikaanse kliënte omgee soos jy beweer nie, sou jy sekerlik baie meer voorbeelde kon gee van “diskriminasie” teen wit mense in Spur. Die feit dat jy bly hamer op een voorval terwyl jy toegee dat jy nie die al die feite het nie, ondermyn jou argument en bevestig ons stelling dat die voorval uit verband geruk is om ʼn spesifieke politieke agenda te dien.
Spur het nog nooit en sal ook nooit enige besluite in gevalle soos die konflik in die Texamo Spur baseer op die ras van die betrokke individue nie. Ons het eenvoudig na die beeldmateriaal gekyk en ons besluit geneem op grond van al die feite tot ons beskikking. Ons glo ons het die regte besluit geneem en ons staan by dié besluit desnieteenstaande die aanvalle van mense wat moedswillig ʼn vals aanname maak dat ons ʼn oordeel op grond van ras gevel het.
Ons aanvaar wel ons het foute gemaak in ons hantering van die voorval en ons het reeds ʼn proses begin om vas te stel hoe ons in die toekoms ons reaksie tot soortgelyke krisisse kan opskerp. Ons glo ook dat Spur ʼn verantwoordelikheid het jeens ons kliënte en die groter publiek om die voorval oop te stel vir ʼn deeglike ondersoek sodat al die faktore op ʼn rustige, oorwoë manier onder die loep geneem kan word. Dit is waarom prof. Elmien du Plessis van Noordwes-Universiteit se regsfakulteit versoek het om ʼn onafhanklike paneel van kenners te identifiseer wat die saak kan ondersoek. Ons het haar die versekering gegee dat ons die paneel se aanbevelings sal aanvaar en sal implementeer. Ons gaan alle belanghebbende partye versoek om voorleggings te maak en ons nooi Solidariteit ook om julle saak te kom stel tydens die ondersoek.
Om te kan verstaan waarom franchises in spesifieke gebiede harder getref is deur die boikot, het ons ondersoek ingestel na die demografiese konteks en vasgestel dat daar ʼn verband is tussen histories konserwatiewe areas en die takke wat swaar trek. Hierdie data het ons ook help sin maak van die rassistiese kommentare op sosiale media en die politieke ingesteldheid van die groepe wat die boikot dryf. Joernaliste wat die voorval ondersoek, het op grond van die rassistiese reaksies en dreigemente aanlyn dit as ʼn “regse boikot” beskryf.
Ons kan ten slotte oor een ding saamstem: Soos jy self erken word Spur nie gestraf vir sy optrede nie, maar ons loop deur onder ʼn segment van die wit bevolking weens redes wat niks met ons te doen het nie. Dit het ook niks te doen met die mense wat vir Spur werk en nou afgeknou en gedreig word nie. Ek dink jy sal op die lang duur sien dat daar geen wenners is in hierdie debakel nie. Duisende mense kan moontlik hul werk verloor en gemeenskappe wat sou kon voordeel trek uit Spur, sal armer en meer verdeeld wees as die boikot aangaan.
Ons glo as die stof eers gaan lê, sal mense insien dat Spur vinnig en doelgerig opgetree het in reaksie op ʼn voorval van geweld teen ʼn kind en dat ons oordeel in die kol en geregverdig was, ongeag wie die aanhitser of die slagoffer was.
Groete
Pierre van Tonder
*Maroela Media het die brief aan dr. Dirk Hermann aangestuur. Hy sal binnekort hierop reageer en dié skrywe sal ook op Maroela Media gepubliseer word. -Red